Die wiel draai…

 

Veertien jaar gelede het ek ‘n geleentheid gekry en gebruik gemaak daarvan, eintlik het ek dit met albei hande aangegryp. Ek het twee tasse met klere gepak, vir my en my kinders, en ek het ‘n nuwe lewe begin – ‘n harde lewe maar ‘n rustige lewe sonder rusie, drank en geweld.

 

Ek het nie werk gehad nie en ek was afhanklik van my familie vir alles. Selfs nadat ek begin werk het, het dit broekskeur gegaan. Jy het geweier dat ek enigiets uit die huis kry, selfs die kinders se speelgoed! Jy het geweier om onderhoud te betaal – dit was mos ek wat wou skei… nie eers as die kinders siek was, het jou hart versag nie, ek moes maar op ‘n ander plek gaan geld soek vir medisyne en dokters – vir 14 jaar het jy alles in jou vermoë gedoen om die lewe vir my so moeilik moontlik te maak.

 

So, verskoon maar as ek nie simpatie en meegevoel het nie… Jy sê jy is besig om van jou vrou te skei en jy het net met jou klere uitgeloop (kan ‘n mens so ‘spiteful’ wees?), jy loseer êrens en het nie geld vir kos nie – vriende bring vir jou kos (dis niks lekker om ander mense in die oë te moet kyk nie, né?), jou skuldeisers bel jou daagliks en die dagvaardigings hoop op, die kar het gebreek – hoe gaan jy nou by die werk kom?! Jy is alleen en jou kinders wil jou nie ken nie (JOU kinders???)?

 

Ek verlustig my geensins in ander mense se teenspoed nie maar… die wiel het vol sirkel gedraai – ek hoop jy kan die ‘punch’ vat…

Dodaj komentarz