Ek is nie meer die mens wat ek eens op ‘n tyd was nie. Ek is bietjie rustiger. En minder van ‘n stadsjapie. Ek hou van die wildtuin. En visvang. En foto’s neem van berge. En kamp in die Wildtuin.
So is ons juis nou die dag in die Wildtuin. Ons het die nuwe King Cab gaan uittoets. Ons het besluit ons moet ‘upgrade’ van ‘n single cab af, ek was moeg vir met goeters op my skoot rond ry. En oe, die King Cab is ‘n droom. Ek en Lourens sit nou net noodgedwonge verder van mekaar af. (En vir ons jonges kan dit ‘n straf wees…)
Ons sit mos nou lekker hoog. Dit voel so ewe of jy neerkyk op mense in hulle kleiner karretjies.
So kom ons op twee buitelandse terroriste af. Ons neem aan hulle was Frans. Eers hou ons stil. En kyk ook na waar hulle in die niet instaar. Die vrou gryp naderhand vervaard na ‘n voëlgids, en begin naarstigtelik rondblaai.
Ons is redelik getryn in die wild kyk storie, maar sien niks nie. Ons kyk maar weer.
„Sien jy iets, Buksie?” wil Lourens weet.
„Nee, sien jy?” hy haal so ewe sy sonbril af.
Ons rol baie beleefd ons venster oop. Ons moet mos aan die buitelanders wys dat Suid Afrikaners goed opgevoede, beskaafde mense is. Hulpvaardig en so aan. (Dit het niks uit te waai met af show nie…)
„There was a bird there just now.” Se die mannetjie met sy vreemde aksent.
„It’s gone now,” las sy vriendin hulpvaardig by.
„Oh.”
„Yes, it was black and white.”
„Oh.” Ek kan nie dink wat dit kon wees nie. Swart en wit?
„There it is!” beduie die man trots na ‘n bladsy in die boek oor die vroumens se arm.
„Oh, it’s a Peng-uin!”
En so sien die twee hul eerste pikkewyn in die wildtuin. Hoe wens ek nie ons was bietjie vroeër daar gewees nie.
Ons het nie langer daar gesit nie. Lourens het my venster toegedraai, want dis ongeskik om so in mense se gesigte vir hulle te lag. Ons het, needless to say, die res van die naweek Jakkie Louw se CD geluister.